Danie en Susan Pienaar, twee van Lourensrivier se gemeentelede het die Camino Pelgrimsstaptog in Spanje in Mei/Junie aangedurf.
Danie gee bietjie terugvoering:
Haai almal, jip, ons is terug.
Dit was ’n lang tog en sekerlik die grootse ding wat ons al ooit aangepak het.
Dit is nie moontlik om die Camino te beskryf nie, daar is te veel fasette en emosies betrokke. Ons het ongeveer 800km gestap vanaf St Jean Pied du Port in Frankryk na Santiago in Spanje. Dit het ons 38 dae geneem. Die vêrste wat ons gestap het op ’n dag is net so vêr soos vanaf die Strand tot by die tolhek van die tonnel by die Paarl. Ons het ons beplande rusdae toe uitgehaal en die afstande per dag minder gemaak om tussen 25km en 15km te wees.
Hierdie foto is geneem in St Jean nadat ons geregistreer het. Jy ontvang ’n skulpie wanneer jy ingeboek is.
Hier is ons nog vol lekker vet. Fiks was ons beslis, ons het 1350 km gestap VOORDAT ons met die Camino begin het, maar niks niks niks kan jou voorberei vir die Camino nie.
Ons het nog baie gehad om te leer......
38 dae later in Santiago. Ek het 11 kg verloor en Susan het ongeveer 6 kg verloor.
Ek was gelukkig om op my verjaarsdag by Santiago te kon instap.
Was dit moeilik? Beslis nie ’n piekniek nie. Die meeste was lekker gewees.
Was daar pyn? Ook beslis. Maar niks meer as wat die ander Perigrenos beleef het nie. Ons voete het pragtig gehou. Was ons honger? Die hele tyd. Jy is altyd honger. Onthou jy betaal R17 vir een Euro en ’n koffie kos 2 Euro. Jy maak gereeld self kos, gewoonlik net slaai vir aandete.
Hoe het ons geslaap? Saam met baie ander in baie verskillende slaapsale. Dit snork en knor en kreun. Die ou langs jou slaap 400mm van jou af.
Hoe was die pad? Teer, gruis, rots, plaveiding, gras, beton en modder modder modder. Baie dae aaneen gereën. Baie dae erg hitte. Somtyds ys-wind. Net een keer in sneeu gewees.
Heuwels? Baie en nog meer. Kilometers op-pad en kilometers af-pad. Sommige heuwels was bitter erg steil. Gelukkig was ons heuwel-fiks.
En die dorpies? Vele van hulle . Pragtig. Middeleeus.
Sal ons dit weer doen? Waarskynlik.......
KLIK HIER VIR MEER INLIGTING OOR DIE CAMINO ASOOK AL DIE STORIES EN BAIE FOTO'S