God praat voortdurend. Daar is nie 'n oomblik in tyd dat God nie praat nie. Net soos wat radioseine 24 uur per dag uitgestuur word, saai God ook 24 uur per dag uit. God praat onafgebroke, ons moet net 'n oor hê om te hoor wat Hy sê.
Wanneer die lewende God ons harte wil bereik, gebruik Hy woorde. Niks beïnvloed ons harte meer of wek ons emosies meer op as dit wat ons hoor nie. Die pad na die mens se hart loop deur sy oor. Dis hoekom die Bybel sê dat die wat 'n oor het moet hoor wat God wil sê. Die mens het 'n uiterlike en 'n innerlike oor. God praat nooit met jou verstand of jou logika nie – God praat met jou gees, met jou innerlike mens.
Dis baie belangrik om God se stem te kan uitken omdat daar soveel ander stemme is wat vir ons aandag meeding. Die geheim is om nie ons ore uit te leen aan verkeerde praatjies nie. Wanneer ons na negatiewe praatjies luister, moet ons net met 'n halwe oor luister. Met die ander een-en-'n-halwe-oor moet ons, te midde van die slegte tyding en krisis waar deur ons gaan, na God luister.
DIE HERDER EN SY SKAPE
Johannes 10:4 – En wanneer Hy Sy eie skape uitgebring het, loop Hy voor hulle uit; en die skape volg Hom, omdat hulle Sy stem ken.
Die Herder lei nie Sy skape alleenlik deur Sy voorbeeld nie. Hy lei hulle met Sy stem ook. Die skape volg Sy stem omdat Sy stem met Sy optrede ooreenstem. Hulle vertrou Sy stem omdat hulle Sy karakter vertrou. Mense vra my altyd: “Gary, wanneer God met jou praat, hoe herken jy Sy stem?” God se stem is gelyk aan Sy karakter en Sy karakter is gelyk aan Sy Woord. Hoe meer jy die Woord ken, hoe beter ken jy Sy karakter en hoe makliker is dit om Sy stem uit te ken.
Johannes 10:5 – Hulle sal 'n vreemde nooit volg nie, maar van hom wegvlug, omdat hulle die stem van die vreemdes nie ken nie.
Ons kan weet dat dit nie God is wat praat nie wanneer die woorde wat ons hoor God se karakter, aard en waardes weerspreek. Ons Suid-Afrikaners spits nie ons ore wanneer God praat nie. En omdat ons nie gedurigdeur Sy stem hoor en herken nie, is dit vir ons makliker om eerder na ander stemme te luister.
LÉÉF VAN GOD SE WOORD
Deuteronómium 8:3 – En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die Here uitgaan.
Ons is geskape om geestelik te lééf van elke Woord wat uit God se mond gaan. Soos wat kos ons liggame fisies versterk en aan die gang hou, so versterk en voed God se Woord ons geestelik. As ons nie geestelik kan hoor wat God sê nie, is ons gees arm, swak en behoeftig aan kos. Baie Christene sukkel om take in die koninkryk te verrig omdat hulle geestelik honger, vodde, gehawend en voos is. God se Woord gee ons die vermoë om geestelik volwasse te word.
Let daarna op dat daar staan nie dat die mens sal leef van elke woord wat reeds uit God se mond gegaan het of nóg sal gaan nie. Die mens leef van elke woord wat gedurig uit Sy mond uitgaan.
REPETEER WAT GOD SÊ
Markus 9:7 – En daar kom 'n wolk wat hulle oordek; en uit die wolk kom 'n stem wat sê: Dit is my geliefde Seun, luister na Hom!
God motiveer die mensdom om na Hom te luister. As jy ooit iets sinvol vir iemand anders wil sê, moet jy eers hoor wat God te sê het. As jy ooit opbouend van iemand wil praat, hoef jy net te herhaal wat God van daardie persoon gesê het. Jesus het volgens hierdie beginsel geleef. Hy het niks gesê wat Hy nie by die Vader gehoor het nie.
Johannes 5:19 – Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê :Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, doen die Seun ook net so. Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie My wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het.
Jesus het nie Sy eie woordeskat gehad nie. Hy het niks gesê tensy Hy die Vader dit hoor sê het nie. Toe Jesus opgevaar het na die Hemel, het Hy gesê dat Hy die Heilige Gees na ons toe stuur. Netsoos wat Jesus niks gesê het wat Sy Vader nie gesê het nie, so sal die Heilige Gees slegs sê wat Jesus gesê het.
Johannes 16:13 – Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig.
Die Heilige Gees sê vandag steeds wat die Vader en Jesus gesê het. Vandat Jesus opgevaar het, was die opdrag aan die Kerk om na die Heilige Gees te luister. Ironies genoeg is die Heilige Gees die Persoon van wie die Kerk die minste af weet. Suid-Afrika is op die vooraand van 'n uitstorting van die Heilige Gees soos wat hierdie land nog nooit in sy geskiedenis gesien het nie. En as ons dit wil hê is daar net een voorwaarde: Honger en dors na die lewende God!
JESUS SE VLEES IS SY WOORD
Johannes 6:55 – Want my vlees is waarlik spys, en my bloed is waarlik drank. Wie my vlees eet en my bloed drink, bly in My en ek in hom.
Wat Jesus bedoel het met eet my vlees is: “Eet die Woorde wat ek spreek.” Wanneer ons Jesus sê woorde eet, word dit omgesit in geestelike krag.
Johannes 6:60 – En baie van sy dissipels het gesê toe hulle dit hoor: Hierdie woord is hard, wie kan daarna luister? En Jesus het in Homself geweet dat Sy dissipels hieroor murmureer, en Hy sê vir hulle: Is dit julle tot 'n aanstoot? Toe sê Jesus vir die twaalf: Wil julle nie ook weggaan nie? En Simon Petrus antwoord Hom: Here, na wie toe sal ons gaan? U het die woorde van die ewige lewe.
Jesus se woorde het sommige van Sy dissipels geaffronteer. Dis verstommend dat God se Woord nooit wêreldlinge affronteer nie, maar slegs die Kerk. Van daardie oomblik af het die meeste van die dissipels nie meer vir Jesus gevolg nie, omdat hulle nie kon verstaan wat Hy bedoel het nie. Hulle het aanstoot geneem omdat Sy woorde nie logies sin gemaak het nie.
FOKUS OP SY WOORD
Spreuke 4:20-22 – My seun, luister na wat ek sê, neig jou oor tot my woorde, laat hulle nie wyk uit jou oë nie, bewaar hulle binne-in jou hart. Want hulle is die lewe vir die wat hulle vind, en 'n genesing vir hulle hele liggaam
Al wat God sê is: “Fokus op My Woord.”
Sebras het almal strepe, maar nie een van hulle is dieselfde gespray paint nie. Elke sebra se strepe is anders. Wanneer 'n sebravul gebore word, sorg die ma dat die vul vir die eerste paar uur net op haar strepe fokus. Die ma se identiteit word in die vul se geheue gestoor. Dit stel die sebravul in staat om sy ma te kan uitken tussen duisende ander sebras.
Netsoos wat die sebravul op sy ma se strepe moet konsentreer om te oorleef, moet ons op God konsentreer. Wanneer die popo die fan strike, of wanneer iemand onverwags sterf, is baie Christene se reaksie: “Waar is God?” Omdat hulle nie lank genoeg op Hom gefokus het nie, kan hulle Hom nie raaksien of uitken nie.
GOD SE WOORD VESTIG JOU IDENTITEIT
Mattheüs 4:3 – En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippie brode word.
Nadat Jesus gedoop is het die Vader gesê: “Dit is my geliefde Seun.” Die Vader het Jesus se identiteit kom bevestig. Toe satan vir Jesus in die woestyn versoek het, was die temptasie nie om klippe in brood te verander nie, maar die temptasie was: As jy die seun van God is... Die temptasie was om Jesus te laat twyfel dat Hy wel die Seun van God is. Jesus het geweet dat Hy die seun van God is. Maar, as Hy daardie klippe in brood sou verander het, sou Hy ontken het dat Hy die Brood van die Lewe is.
Wanneer ons nie toelaat dat die Woord van God ons identiteit bevestig deur vir ons te sê wie ons is nie, doen ons onself 'n onreg aan. God sê ons is die appel van Sy oog. Ons is vir Hom kosbaar. God sê dat Hy nasies in ruil vir ons sal gee.
HOOR EN HERKEN SY STEM
1 Timótheüs 4:2 – Hierdie dwaalleraars is skynheilige leuenaars wie se gewete toegeskroei is.
Baie mense sê: “God praat nie met my nie.” Luister net na jou gewete – dis één van die maniere hoe Hy met jou praat. Ons Christene se gewete is ons grootste besitting naas God se Woord, Gees en Jesus se bloed. Dis ook een van die maniere hoe God met ongeredde mense praat. Niemand van ons se gewete, gered of ongered, het ons al ooit aangemoedig om iets verkeerd te doen nie.
As ons nie na ons gewete luister nie, is ons besig om God se stem al sagter en sagter te draai. Ons gewete is soos 'n rooi verkeerslig. Dit waarsku ons teen gevaar en beveel ons om te stop, maar dit kan ons nie forseer om te stop nie. Elke keer as ons nie na ons gewete luister nie, is dit soos iemand wat 'n strykyster vat en 'n syhemp skroei. Dit word hard en krapperig. Dis ons verantwoordelikheid om ons gewete rein, skoon en geaktiveer te hou. Hoe meer ons na ons gewete luister hoe helderder word dit. Ons gewete is 'n Godgegewe geskenk – ons moet dit oppas!
HOE OM GOD SE STEM TE HOOR
BEHOORT AAN GOD
Jy moet aan God behoort om Sy stem te kan hoor. Jesus het gesê dat Sy skape Sy stem ken. Jy moet 'n verhouding met die Herder hê. Jy moet weergebore wees en aan Sy kudde behoort.
Die enigste manier hoe ons aan Hom kan behoort is om wedergebore te word. Ons moet uit die Gees van God gebore word. Ons kan godsdienstig wees, kerk toe gaan, en twintig Bybels besit – ons kan in die kerkkoor sing of selfs predikers wees, maar as ons nie uit God se Gees gebore is nie, gaan ons hel toe. Goeie mense gaan hel toe, geredde mense gaan hemel toe.
Johannes 8:47 – Die wat uit God is, luister na die woorde van God. Daarom luister julle nie, omdat julle nie uit God is nie.
Johannes 1:12 – Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in Sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van 'n man nie, maar uit God gebore is.
Daar moet 'n tyd in jou lewe kom wat jy uit God gebore word. As jy dit nie doen nie, sal jy nie hemel toe gaan nie, en sal jy nie Sy stem hoor nie.
LEER GOD SE WOORDESKAT AAN
Om God se stem te hoor moet ons 'n Goddelike woordeskat ontwikkel, uitbrei en benut. Elke baba word gebore met die potensiaal om eendag te kan praat. 'n Kind leer om te praat deur herhaaldelik te hoor hoe ander mense praat. Die woord wat 'n kind die meeste hoor is ook die woord wat 'n kind eerste sal sê. Die eerste woord wat ons vir God moet sê is : Pa. God is ons Skepper en Heiland, maar Hy is ook ons pa.
Die persoon wat aan ons geboorte geskenk het, is die persoon wie se woordeskat ons aanleer. God vind dit vreemd wanneer Sy kinders kla, murmureer, brom of negatief praat omdat dit nie in Sy woordeskat is nie.
Ons moet uit God gebore word en tyd in die Woord spandeer om 'n Goddelike woordeskat op te bou. Baie mense verstaan God nie omdat hulle nie uit Hom gebore is nie, óf omdat hulle nie genoeg tyd in die Woord spandeer om te leer hoe Hy praat nie.
AANVAAR GOD SE WOORD AS DIE WAARHEID
2 Timótheüs 3:16 – Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.
Jy moet aanvaar dat God se Woord die waarheid is. Psalm 119:160 – Die hele inhoud van U Woord is waarheid, en al U regverdige verordening is tot in ewigheid. Wat God in Genesis gesê het is steeds van toepassing. Wat God in Psalm gesê is steeds van toepassing. God se Woord is die ewige Woord! Jesus is die Weg die Waarheid en die Lewe. As ons Hom nie gaan aanvaar as die Weg nie, gaan ons nie die Waarheid ken nie – en gaan ons nie kan Lewe nie.
WEES BEREID OM TE LUISTER
Daar is 'n verskil tussen God se stem te hoor en daarna te luister. Om te hoor beteken ons ontvang informasie, om te luister beteken ons doen iets met die informasie wat ons ontvang het.
2 Tim 4:3-4 – Want daar sal 'n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle 'n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede, en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels.
God sal nooit vir jou sê wat jy wil hoor nie, Hy sal vir jou sê wat jy moet hoor. Dit help nie ons sê vir onsself: “Ag, dis nie meer sonde nie.” Sonde bly sonde, verkeerd bly verkeerd. God se Woord is nog steeds God se Woord. As ons elke dag God se stem wil hoor, moet ons na Hom toe gaan soos Sameul: “Spreek Here, U dienskneg luister.” Ons moet na God toe gaan met 'n nederige gesindheid – hoogmoedige mense hoor nie God se stem nie. Dit beteken dat ons moet bereid wees om te luister na die Woorde wat God wil spreek. Woorde van bemoediging, korreksie en vermaning.
Hoekom hoor baie mense nie God se stem nie?
Baie mense hoor nie God se stem nie omdat hulle gekies het om dit nie te hoor nie. Daar is 'n uitdrukking wat sê: Jy hoor net wat jy wil hoor. Die Here het vir my 'n interessant ding gesê: “Mense hoor nie My stem nie want hulle ore is nie besny nie.”
Handelinge 7:51 – Julle hardnekkiges en onbesnedenes van hart en ore, julle weerstaan altyd die Heilige Gees; net soos julle vaders, so ook julle.
Sommige Christene weerstaan die Heilige Gees omdat hulle nie hulle harte en ore besny het nie. Hulle ore is bedek met 'n vel van ongeloof, twyfel, rebellie en ongehoorsaamheid wat verwyder moet word. Ons ore en harte moet besny wees. As God ons harte wil bereik moet Hy deur ons ore gaan. Ons het ons ore nodig om geloof te bekom (Romeine 10:17). Die eerste produk wat die Woord van God in 'n Christen se hart produseer is geloof om God op Sy Woord te neem. Ons kan nie geloof in ons harte kweek óf dit beoefen as ons nie Sy Woord hoor nie.
Partykeer kan ons nie hoor wat God sê nie omdat ons ore verstop is. As ons ore in die natuurlike verstop is, moet ons dokter toe gaan om dit te laat uitspuit. As ons geestelike ore verstop is, kan ons dit nie self skoon maak nie – ons Vader moet ons ore uitspoel met die waterbad van die Woord (Efesiërs 5:7).
Om God se stem te kan hoor en uit te ken is eenvoudig: Spandeer tyd in die Woord sodat jy kan leer praat soos Hy. Bly nederig en wees bereid om te luister!
- Gary Kieswetter -