Wat is hoogmoed of trots?
Hoe definieer mens hoogmoed of trots? Hoe weet mens of jy nie dalk hoogmoedig is sonder dat jy dit besef nie?
Jak 4:5-6 "Of dink julle dat die Skrif sonder rede sê dat God die gees wat Hy in ons laat woon, heeltemal vir Homself wil hê? (6) Maar Hy gee groter genade; daarom sê Hy: God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade."
Nota oor vertaling:
Die 1983 vertaling verskil hier wesentlik van die 1933/1953 vertaling. Die 1933/1953 vertaling is waarskynlik gebaseer op minder betroubare Griekse manuskripte. ‘n Akkurate idiolektiese vertaling sou lees: Jak 4:5 "Of meen julle dat die Skrif tevergeefs sê: Met jaloersheid begeer Hy die gees wat in ons woon?" Die Message vertaal bv. "he's a fiercely jealous lover."
So, wat is hoogmoed of trots? Volgens hierdie teksgedeelte is dit as daar enige iets in die kern van jou menswees is wat nie heeltemal aan God behoort nie, en nog nie aan God oorgegee is nie, wat jy self vertroetel en daardeur eer of erkenning vir jouself versamel.
Dit is waarskynlik een van die mees wesentlike sondes in Christene se lewens. Dit kan verskeie vorme aanneem:
- Om jouself die middelpunt van aandag te maak tussen ‘n groep mense.
- Om erkenning te soek by mense.
- Om mense te manipuleer om jou jammer te kry = emosionele manipulasie = "smartvraatjie."
- Om selfs goeie dinge te doen ("koninkrykswerk") om deur mense gesien te word – om mense te probeer beïndruk.
Dit is ook een van die mees gesofistikeerde sondes. Dit kan baie meer genuanseerde vorme aanneem:
- Snobisme: dit laat jou beter lyk as ander.
- Om ander mense af te kraak en te beskuldig en sleg agter hulle rug te praat, want dit laat jou beter lyk.
- Om jouself voor mense af te kraak sodat hulle jou moet jammer kry. Dit is valse nederigheid = "spitefulness"
- Om te dink jy kan jou probleme self oplos, deur dit nie in geloof aan die Here oor te gee nie. Dit hou dikwels verband met "worry."
En dan, ‘n baie gewilde een: om te voel jy is te na gekom in die lewe, en daarom skuld die lewe jou! Mense skuld jou! God skuld jou! En die ironie is, dan sal God jou niks gee nie: Hy weerstaan die hoogmoediges (Jak 4:6). God skuld ons niks. Ons het niks om op te roem voor God nie. Ons verdien niks by God nie. Jesus het nie vir ons sondes gesterf omdat Hy ons dit skuld nie. God skuld ons vergelding vir wie en wat ons is. En wat doen God? Hy gee sy eniggebore Seun. Hy het ons lief. Hoe is dit moontlik? Slegs die Gees van God kan ons dit laat begryp, maar nie met ons verstand nie, dit is te groot.
2 Kor 5:14 "Want die liefde van Christus dring ons, (15) omdat ons van oordeel is, dat as een vir almal gesterf het, hulle dan almal gesterf het; en Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is."
Hoe kan ons nog vir onsself bly lewe? Paulus sê ook: Fil 3:7 "Maar wat vir my wins was, dit het ek om Christus wil skade geag. (8) Ja waarlik, ek ag ook alles skade om die uitnemendheid van die kennis van Christus Jesus, my Here, ter wille van wie ek alles prysgegee het en as drek beskou, om Christus as wins te verkry." Jesus sê: "As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën en sy kruis opneem en My volg." (Mat 16:24) en:
Joh 12:24 "Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug. (25) Wie sy lewe liefhet, sal dit verloor; maar wie sy lewe haat in hierdie wêreld, sal dit bewaar vir die ewige lewe."
In vers 7 van Jak 4 staan daar: "Onderwerp julle dan aan God; weerstaan die duiwel, en hy sal van julle wegvlug." Hoe kan ons die duiwel weerstaan as ons onsself nog nie volledig aan God onderwerp het nie? Nederigheid is om alles aan God oor te gee – dit is om jouself volledig op God te verlaat en al jou vertroue op God te plaas en nie op jouself nie. In hierdie sin is nederigheid gelyk aan geloof.
Het ons al elke kamer van ons hart, elke talent, elke gedagte, elke vooropgestelde idee, elke besitting, elke ding waaraan ons vashou buiten God aan Hom oorgegee? Hoe belangrik is die "eie ek" nog in ons lewens? Het ons al op die punt in ons lewens gekom waar ons kan sê: "Dit gaan nie oor my nie, maar oor God se doel met my lewe"? Hy moet meer word en ek minder? Het ons al volledig gesterf in onsself sodat ons saam met Paulus kan sê: "Ek leef nie meer nie, maar Christus leef in my"? (Gl 2:20).
Ek vra maar net…
- Philip du Toit -
1 SAMUEL 2:3
"Julle moenie in hoogmoed bly praat nie, moenie aanmatigende dinge sê nie, want die Here is 'n God van diepe kennis, dade word deur Hom getoets.
2 SAMUEL 1:19
"Jou trots, Israel - op jou hoogtes lê dit verslaan. Hoe het die helde geval!
JOB 20:6
Al sou sy trots tot in die hemel reik en sy kop aan die wolke raak,
JOB 35:12
Mense roep om hulp, maar Hy antwoord nie, want hulle is vol hoogmoed en boosheid.
PSALMS 101:5
Wie sy naaste beskinder, wil ek uitwis. Hoogmoed en vermetelheid verdra ek nie.
SPREUKE 8:13
Om die Here te dien, is om te haat wat verkeerd is. Daarom haat ek hoogmoed en hovaardigheid, 'n verkeerde lewe en slinkse woorde.
SPREUKE 16:18
Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val.
SPREUKE 29:23
Hoogmoed bring 'n mens tot 'n val; nederigheid bring eer.
SPREUKE 30:13
'n soort mens wat vol hoogmoed, vol eiewaan is,
JESAJA 2:12
Die Here die Almagtige het 'n dag bepaal teen al wat trots en hoog is, teen alles, hoog en laag,
JESAJA 5:15
So word mense verneder en kom hulle tot 'n val. So kom hoogmoed tot 'n val.
JESAJA 13:11
Ek sal die land straf oor sy boosheid, die goddeloses vir hulle sonde. Ek sal 'n einde maak aan die hoogmoed van die vermeteles, Ek sal dié wat hoogmoedig en verwaand is, verneder.
JESAJA 16:6
Ons het gehoor van die hoogmoed van Moab, van sy trots, sy vermetelheid, sy hoogmoed, sy hovaardigheid, maar sy grootpratery het tot niks gelei nie!
JESAJA 23:9
Die Here die Almagtige het dit besluit. Hy breek die trots, Hy maak die hoogmoed tot niks, Hy verneder dié wat oor die hele aarde geëer word!
JEREMIA 13:17
Maar as julle nie luister nie, sal Ek in stilte huil oor julle hoogmoed, Ek sal huil en huil, trane stort omdat my kudde as ballinge weggevoer word.
JEREMIA 48:29
Ons het gehoor van Moab se vermetelheid, sy opperste hoogmoed, sy verwaandheid, sy vermetelheid en sy trots, sy selfvoldaanheid.
ESEGIËL 16:49
Jou suster Sodom se sonde was dat sy en haar dogters selftevrede en rustig in hoogmoed en oorvloed geleef het en vir die mens in nood en die arme niks oorgehad het nie.
HOSEA 5:5
Israel se hoogmoed getuig teen hom, en Israel en Efraim sal saam tot 'n val kom oor hulle sonde. Selfs Juda het saam met hulle tot 'n val gekom.
HOSEA 7:10
Israel se hoogmoed getuig teen hom. Hulle het nie teruggekeer na My, die Here hulle God, nie en het te midde van dit alles nie na my wil gevra nie.
MARKUS 7:22
owerspel, hebsug, kwaadwilligheid, bedrog, losbandigheid, afguns, kwaadpratery, hoogmoed, ligsinnigheid.