Die Herselmans was sonder twyfel die vreeslikste kinders in menseheugenis. Hulle het gelieg, gesteel, sigare gerook.
Selfs die meisiekinders.
Hulle het vuil taal gebruik en Freek Schoeman se pakkamer aan die brand gesteek en dit heeltemal laat afbrand. Ek dink die Herselmans was hieroor skoon oorbluf. Dit was die eerste keer dat hulle daarin geslaag het om ’n HELE gebou af te brand.
Daar was Roelf, Issie, Ewert, Lodewikus, Ollie en Gladys. Ses Herselmans!!
Ses maer benerige wesentjies met toiingrige haartjies en vol blou kolle soos hulle mekaar bygedam het. Hulle het in ’n pakkamer bokant ’n ou garage aan die buitewyke van die dorp gewoon. Niemand het meer die garage gebruik nie.
Die deur het hulle vinnig en hard oop en toe geruk en so probeer om mekaar te vermorsel. Dit was hulle idee van gesonde vermaak.
By die hek was ’n kennisgewing: “ Pasop vir die kinders.” Dis een nag daar vasgesit deur ’n vies inwoner wat onder een van die Herselmans se eskapades deurgeloop het. Die volgende oggend was hulle woedend toe hulle dit sien, maar net toe Issie dit vloekend wou afruk, sê Roelf “Nee, los dit, lat hulle sien met wie’t hulle te doen.”
Die Herselmans het soos Piranha-vissies van graad na graad en standerd na standerd beweeg.
Toe Ewert Herselman na graad 2 moes gaan, het hy nie eers die alfabet geken nie. Maar nie een van hulle het ooit gedruip nie. Geen onderwyser het kans gesien vir twee Herselmans in een klas nie.
Ons was almal vas oortuig dat die Herselmans op pad was na die ewige verdoemenis, ná ’n draai in die sentrale gevangenis.
Maar toe kry hulle te doen met tant Let en die jaarlikse Kersspel.
Die Kersspel was elke jaar dieselfde – die herberg, stal, herders en ster. Die dominee se seun was altyd Josef en Elise Wentzel was altyd Maria (omdat sy so slim en sedig gelyk het). Die res van ons was die engelekoor.
Maar toe vertel een van die kinders vir Lodewikus Herselman dat ons by die Kinder-krans koekies en koeldrank kry. En gedoriewaar, die volgende week is hulle almal by die Kinderkrans.
“Wat is ’n Kersspel?” vra Issie.
“Dis ’n soort toneelstuk,” sê tant Let.
“Waaroor gaan dit?” vra Issie.
“Dis oor Liewe Jesus se geboorte,” sê Elise.
“O” sê Issie.
Dit lyk nie of sy veel erg het aan hierdie Kersspel nie. Maar moenie glo nie. Die volgende week toe almal bymekaarkom vir die rolverdeling, is die hele spul Herselmans daar!
Tant Let sê toe: “Soos gewoonlik gaan die graad eentjies en tweetjies die engeltjies wees. Die ouer kinders gaan die herders, die gaste in die herberg en die koorlede wees.
Vir Maria, Josef, die drie wyse manne en die engel wat die blye tyding bring, gaan ek vrywilligers vra. Dan kan ons almal saam besluit wie watter rol gaan speel.
Tant Let het gereken sy is veilig. Die enigste meisie wat ooit haar hand opgesteek het, was Elise Wentzel. Maar nou het Elise met neergeslane oë doodstil gesit. Die enigste hand in die lug was dié van Issie Herselman.
“Wil jy iets weet, Issie?” vra tant Let.
“Ek wil Maria wees en Roelf wil Josef wees,” sê Issie.
“Dis reg!” beaam Josef.
Toe tant Let haar weer kom kry, sit sy met ’n Kersspel met die Herselmans in al die rolle. Gladys, die vreesaanjaendste van al die Herselmans, was die engel wat die blye tyding bring.
Ons het later uitgevind dat Elise vooraf deur Issie gewaarsku is dat sy met haar te doene sou kry as sy sou waag om haar hand op te steek om Maria te speel. Issie het skynbaar vir Elise gesê: “Volgende lente as die katwilgers uitkom, sal ek ’n katwilger so diep in jou oor afdruk dat niemand dit sal bykom nie. Dit sal begin groei en groei … en vir die res van jou lewe sal daar ’n katwilger by jou oor uitgroei!!”
By die eerste repetisie was almal doodstil. Tant Let het begin om die herberggaste en herders in te deel. Onmiddellik was daar moeilikheid.
“Wie was die Herders?” wil Lodewikus weet, “en waar kom hulle vandaan?”
“Wat is ’n herberg?” vra Ollie.
“Begin liewer héél voor met die storie,” stel Issie voor.
Die Herselmans het klaarblyklik niks van die Kersverhaal geweet nie. Hulle het wel geweet dat Kersfees Jesus se geboortedag was, maar die res was nuus.
Tant Let het toe die Kersverhaal uit die Bybel begin voorlees. Maar toe sy lees dat daar nie vir Josef en Maria plek was nie, val Issie se mond oop en sy sit regop.
“Wat! Nie eers vir Jesus nie?!!”
“Wel” sê Tant Let, “niemand het geweet dat die babatjie Jesus sou wees nie.”
“Hoekom het Maria dit nie vir hulle gesê nie?” vra Roelf.
“Ék sou hulle vertel het. Boeta, ék sou hulle vertel het!” tier Issie.
En wat was fout met Josef dat hy stilgebly het?
En watse ding was dit wat hulle die baba in gesit het, daai krip? Is dit ’n soort bed? Hoekom het hulle ’n bed in die stal gehad?
“Maar dis juis die punt,” gooi tant Let wal. “Wat sou julle doen as julle ’n nuwe baba het en daar is geen bed vir hom nie?” “Ons het Gladys in ’n laai gesit” bieg Issie vertroulik.
Tant Let rol haar oë en lees verder.
Nie lank na Jesus se geboorte het die wyse manne uit die Ooste gekom …“Dis hoog tyd dat iemand kom om die herbergier op sy plek te sit!” besluit Roelf.
“Hulle het vir Hom geskenke gebring, goud, wierook en mirre.” “Watse goed is dit?” “Kosbare olies en lekkerruikgoed,” verduidelik tant Let. “Jiggg!!” protesteer Issie, “watse simpel presente is dit? Mens kan mos niks daarmee doen nie?”
Oor koning Herodes was die Herselmans eers ontstoke. Hulle wou hom met alle geweld beetkry en ’n bloedige einde aan hom maak. Die Herselmans het almal verbaas. Hulle was intens by die Kersspel betrokke.
Die Herselmans is weg by die eerste repetisie te midde van ’n hewige argument: Moes Josef nie die herberg aan die brand steek en die herbergier landuit jaag nie…
Tant Let was bly toe die repetisietyd verby was, maar die aand van die opening was sy weer vol vertwyfeling. Met die Herselmans was enig-iets moontlik.
Om halfagt die aand is die saal se ligte verdoof. Die koor was veronderstel om net twee strofes van Die Heiland is gebore te sing en te neurie voordat Josef en Maria by ’n sydeur moes inkom. Maar al wat inkom is hulle. Die koor sing en sing en neurie en neurie.
Uiteindelik verskyn hulle. Maar nie stampend en stotend soos gewoonlik nie. Hulle verskyn stil-stil en kom huiwerig binne, so asof hulle nie seker is of hulle by die regte plek is nie, hulle lyk verdwaas. …
Toe besef ek skielik dat dit seker só moes gewees het vir die regte Josef en Maria – verlate in ’n stal, oral mense wat nie veel omgegee het vir hulle nie. Hulle kon ook nie baie netjies en versorg gewees het nie. Eerder meer soos hierdie Josef en Maria.
Issie se sluier sit skeef. Roelf se hare is deurmekaar. Hulle skoene is uitgetrap en stowwerig.
Issie dra nie die babapop wiegend in haar arms soos tant Let haar gewys het nie. Sy hou dit teen haar skouer en voor sy dit in die krip sit, klop sy die pop twee maal op die rug en vryf dit daarna saggies.
Nou was dit Gladys, die engel met die blye tyding se beurt. Sy was al een wat vlerke gehad het, en sy hou niks terug nie. Sy storm by die engelekoor verby en roep uit volle bors: “Haai julle ouens, vir ons is daar ’n Kind gebore!”
Almal draai om toe die wyse manne in die gangetjies tussen die gehoor vorentoe beweeg. Wyse man Lodewikus Herselman dra iets wat so swaar is, dat sy rug daarvan krom. Dis ’n ham! Ek weet onmiddellik waar hy dit gekry het. Die kerkkomitee versprei elke jaar kosmandjies onder die behoeftige gesinne en hierdie ham is die Herselmans se Kersfeesham – met die groen en rooi geskenk lint nog daarom gestrik.
Nog nooit het die Herselmans iets aan ’n ander weggegee nie, behalwe stampe en stote.
Lodewikus sit die ham voor die krip neer. Dit lyk vreemd, so anders as die windmakerige badsout flessies – die wierook, mirre en goud – van vorige jare.
Die gehoor begin Stille Nag sing. Toe ons by Heer gebore vir ons kom, kyk ek terloops na Issie… en byna hou ek op sing…!!
Issie huil!
In die kerslig is haar wange blinknat van trane en sy probeer hulle nie eers wegvee nie. Sy sit net daar – die aaklige Issie Herselman met haar skewe sluier, toutjieshare en uitgetrapte skoene – en sy huil!
Aan die einde van die aand was almal dit eens dat dit die beste Kersspel was wat ons nog ooit gehad het. Dit was so besonder, so anders, hoekom kon niemand presies sê nie.
Na die tyd was daar koeldrank en lekkers en geskenkies vir almal. Net voor ons loop, blaas die dominee die laaste kerse dood. Hy sien tant Let hou iets vas. “Tant Let, wat op aarde het jy daar?”
Dis die ham. Hulle wou dit om die dood nie terugneem nie. Hulle wou ook nie lekkers of geskenke hê nie.
Daar sal ander Maria’s in die Kersspel wees, maar vir my sal Maria altyd soos Issie Herselman wees – ’n bietjie verward en verwese, maar altyd reg om haar baba teen wie en wat ook al te beskerm.
En die wyse manne sal altyd Lodewikus en sy broers met hulle ham wees.
Buite die kerk was dié nag baie stil.
Om ons en bokant ons het die sterre geblink en ek het aan die engel Gladys gedink. Gladys met haar dun beentjies en stowwerige sandale wat aan almal uitjubel: “Haai julle ouens, vir ons is daar ’n Kind gebore!!”
Toneelstuk by Vryfees (Vrystaat Kunstefees) 2011 (deur Hoërskool Die Wilgers)