Die vrug van die Gees is: selfbeheersing
Galasiërs 5:22: "Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing." Die Grieks vir selfbeheersing is: gematig, inskiklik, om jou nie deur jou woede en drifte te laat meesleur nie. In Engels is dit: "a sound mind". Selfbeheersing ontwikkel in jou gedagtewêreld en dit impliseer krag en mag en heer-skap. Onder Jesus se beheer is dit 'n positief en oorwinnend. 2 Timotheus 1:7 sê "God het ons nie 'n gees van vreesagtigheid gegee nie, maar van krag en liefde en selfbeheersing!" Ons is dus nie op onsself aangewese wanneer dit gaan oor die vrug van die Gees nie - God deponeer in ons die vermoë om hierdie goddelike eienskappe te leef. Efesiërs 3:16 sê byvoorbeeld ook "dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens." Hy in ons is ons krag - in elke moeilike huweliksituasie is Hy die Bron; vloei Sy krag, wysheid en Sy selfbeheersing deur ons om dit volgens Sy riglyne te hanteer. Efesiërs 6:10 moedig ons ook aan: "Eindelik my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte." Dit kos selfbeheersing om elke keer te besluit om uit God se krag te leef; om jou oë op Hom te hou en te luister wanneer Hy Sy bonatuurlike instruksies fluister. God praat nie hard nie - die Heilige Gees praat saggies en baie dikwels is Sy raad heeltemal teen wat jyself sou wou doen. Jy sou wou raas en seermaak; Hy wil dat jy genade gee en glimlag. Jy sou wou vergeld; Hy beveel aan dat jy vergewe. Sonder goddelike selfbeheersing is jy en jou huwelik 'n stad sonder mure, soos Spreuke sê - 'n oop skyf vir die vyand. Dit kos selfbeheersing om jou oë op Jesus te hou. Ons verwagting is immers van Hom. Geloof is om op te kyk na Hom - veral in moeilike situasies in jou verhouding met jou maat. Soos die Israeliete in die woestyn na die koperslang gekyk het vir genesing, kyk ons na Christus om ook ons verhouding te genees. Dan sal jy luister as jou maat wil gesels. Jy sal selfs jou geliefkoosde boek neersit of die spannende TV-program los - want jy weet wat nou belangrik is en jou oë is nie op jouself en jou eie plesier nie. Dit is op Christus in jou. Met jou oë op Hom en jou verwagting van Hom, manifesteer die vrug spontaan. Dit is dan ook die enigste resep wat werk in die huwelik. Hebreërs 4:16 sê nie verniet nie: "Laat ons dan met vrymoedigheid na die troon van genade gaan, sodat ons barmhartigheid kan verkry en genade vind om op die regte tyd gehelp te word." Die bonus, volgens 2 Korinthiërs 3:18, is dat jyself verander word in die proses: "En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spiëel die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is". En Psalm 34:6 beklemtoon dit: "Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie." Gebed: Here, dankie vir U Gees in my; U lewe, wat ook selfbeheersing is. Dankie dat ek kan opkyk na U en ervaar hoe U my menswees infiltreer met U goddelike natuur - sodat ek my maat kan seën; sodat ons een kan wees in U